Help
Google
Hallo,
 
Daar is so baie dankie's wat gesê moet word......  Ek wil graag elkeen opreg bedank wat op enige manier betrokke is by Die Uitreik Projek en wat reeds skenkings gemaak het vir die Desember 2009 kos-hampers, geskenk pakkies, lekkergoed pakkies, skool skryf-behoeftes en enige ander skenking wat ons reeds ontvang het.  Dit maak nie saak wat jou bydrae was nie, weet asseblief dat dit met groot dankbaarheid ontvang is en dat dit in iemand se lewe 'n verskil gaan maak.  Dankie vir die mense wat in hulle werks-plekke en tussen familie kos en ander goed bymekaar gemaak het.  Dankie vir die mense wat van baie ver af gery het om vir ons goed te bring.  Dankie vir skenkings om kinders se skoolgelde of buitemuurse aktiwiteite en sport te betaal.  Dankie vir elke ding wat ons ontvang het - klein of groot.  Julle almal se hulp stel ons in staat om ander te help en uit te reik na ander.  Daarom dus 'n BAIE GROOT DANKIE vir elkeen van julle se hulp, tyd, liefde en omgee. 
 
Die Here het werklik weer voorsien soos altyd en weer hierdie jaar vreemde mense na my toe gestuur wat 'n groot klomp kos en toiletware gebring het toe ek eintlik al begin wonder het of ek enige iets gaan inkry om die hampers mee te pak.  Altyd lekker om die mense te kan ontmoet wat saam wil werk om 'n verskil in ander se lewens te maak.  Daar is mense wat van so ver as die Vrystaat en Kemptonpark af gery het om ons te kom help met hierdie grootse taak.  Dankie dus aan al die nuwe mense en ook die mense wat ons nog altyd en elke jaar ondersteun en help.  Julle is almal staatmakers.  Dankie Mike en Doddie dat ek altyd op julle kan staatmaak om my te help as ek vasbrand en hulp nodig en ook vir julle hulp en ondersteuning met alles en elke onder-projek van die Uitreik Projek. 
Dankie Mike vir die groente wat jy gaan oplaai elke week en gaan uitdeel dat die mense kan eet en ook vir jou hulp by die Kosmandjie Kombuis - ons waardeer jou opoffering en hulp. (Ons weet jy wil nie bedank word nie maar ons wil dit graag doen sommer ook namens al die mense wat jy help.) 
 
Mike en Dianne, dankie vir al julle harde werk in en rondom Harties, in Brits en by Sonop.  Dankie dat ons altyd op julle knoppie kan druk as ons hulp nodig het.  Dankie vir die kos en groente wat julle mee help by die Kosmandjie Kombuis en al die ander plekke.
 
Dr Sanderi het Nostalgiese Perdekoets ritte aangebied in Lawley laan vir twee weke en sy en haar gesin het baie moeite gedoen om skenkings vir ons in te samel.  Baie spesiaal dankie daarvoor - ons weet dit was baie moeite om die perde daar te kry elke aand en ons waardeer dit opreg.  Dit was 'n wonderlike ondervinding om na die liggies te kyk terwyl die koets deur die straat ry!!
 
Ons kort nog heelwat nie-bederfbare kos, toiletware, toiletpapier en skoonmaak middels om die 350 - 400 hampers en toiletware sakkies te kan pak wat ons doelwit was.  Ons is baie dankbaar vir dit wat ons reeds ontvang het en al kan ons dalk net 100 hampers pak, sal dit 100 gesinne wees wat baie dankbaar gaan wees vir die hulp wat hulle ontvang.  Baie baie dankie vir die kontant skenkings wat ons ontvang het om nog goed te gaan aankoop - dit gaan baie help. 
 
Ons benodig ook nog toiletware soos nuwe waslappe, badseep, sjampoo, nuwe kamme, nuwe tandeborsels, tandepasta, naelknippers, roll-on (mans en dames), deodorant (mans en dames), naelvyltjies, weggooibare skeermesse, klein handeroom, LipIce, ens. vir die toiletware sakkies. 
Baie dankie vir die dame wat vir ons pragtige sakkies klaar opgemaak het met waslap, seep, ens. en dit gestuur het al die pad van die Vrystaat af.
 
Ons sal hierdie week en volgende week elke dag pakkies opmaak van rys, suiker, ens. wat ons in grootmaat ontvang het.  Ook die skottelgoedseep, waspoeier en ander skoonmaak-middels moet nog in grootmaat aangekoop word en in kleiner botteltjies en sakkies verdeel word. (Grootmaat werk net heelwat goedkoper uit).  Dan moet die hampers en toiletware sakkies nog alles gepak word.  Dankie aan Annalien en Elmarie wat kom help het om rys, tee, ens. in kleiner sakkies te verpak.  Ek waardeer julle hulp!
 
Ons gaan die hampers en ander goedjies uitdeel op die 28ste Desember 2009 by Sonop.  Ds Gideon gaan vir ons 'n boodskap gee en dankie sê aan Ons Hemelse Vader wat ons in staat stel om dit te kan doen.  Ons werk tot Sy Eer alleen.  Dit is net makliker om die gesinne bymekaar te kry en vir elkeen sy hamper te gee.  Enige persoon wat wil kom help met die pak of uitdeel of met enige iets anders kan my kontak asseblief.  Hulp is altyd BAIE baie welkom - baie dankie solank.  Laat weet my gerus ook as jy wil saamkom op die 28ste. 
Die hampers vir die gesinne rondom Harties en Brits sal Mike en Dianne uitdeel.  Die gesinne daar is wyd versprei en dis nie maklik om almal op een plek bymekaar te kry nie.  Hanlie sal Jireh Opheffings Inisiatief se gesinne se hampers vir hulle neem.   
 
Die lys van goed wat ons gewoonlik in die hampers pak is as volg : Soja Mince, rys, macoroni, spaghetti, oats, langlewe melk (of melkpoeier), mieliemeel, suiker, tee, koffie, sout, kookolie, sop poeier, blikkies vleis, blikkies vis, blikkies groente, aanmaak koeldrank, jellie, konfyt, grondboontjie-botter, toiletpapier, lekkergoed, badseep, sjampoo, tandepaste, groen blok wasgoed seep, skoonmaak middels (handy andy, ens.), skottelgoedseep, roll-on, deodorant, waspoeier, ens.
Ons kyk maar wat kry ons ingesamel en pak soveel moontlik van hierdie goed om darem hierdie gesinne vir 'n week of twee te help tussen Kersfees en Nuwe Jaar.
Ons benodig ook A4 papier bokse met deksels waarin die hampers gepak word.  (Baie dankie aan die mense wat alreeds vir my van hierdie bokse gekry het). 
Leë 500ml botteltjies (of kleiner) met toeskroef doppies word gebruik om die skottelgoedseep en ander skoonmaak middels in uit te gooi.
 
Ander deurlopende projekte: 
 
1) Naaldwerk kamer :
     Hier is altyd enige naaldwerk benodighede soos gare, masjien naalde, materiaal, kant, lint, spelde, materiaal skêre, hangers, ens. nodig. 
     Hier word vroue geleer om naaldwerk te doen, stukkende klere word herstel sodat dit weer bruikbaar is en die vrouens se selfbeeld word
     terselfdertyd opgebou.  Ook wol, hekel-gare, hekel-naalde, brei-penne, stop-naalde, materiaal-verf, kwassies, strykysters, ens. is baie welkom.  
     Nuwe waslappe, spoegdoeke, vadoeke en kombuis was-lappies word borduur en verkoop om 'n inkomste te kry. 
     Hierdie span vrouens werk nie vir geld nie maar vir hul gemeenskap en geld wat wel verdien word, word aangewend on die kinders se skool uitstappies en
     ander uitgawes te betaal en om Die Kosmandjie Kombuis te help as daar 'n spesifieke behoefte is.  Hulle boeke is mooi op datum en mens kan sommer sien dat
     hulle die wilskrag het om uit te styg bo hul swaarkry en 'n sukses te maak.  Voorwaar 'n paar mensies om op trots te wees. 
 
     Hierdie vroue is ook deur Marianthie van Kukkumi geleer om in 'n vertoning op te tree wat sy spesiaal vir hulle geskryf het.  Hierdie besonderse vertoning
     wys dat hulle kan opstaan en uitstyg bo hul omstandighede en dat daar nie teen hulle gediskrimineer kan word omdat hulle nie geld het nie.  Die vroue van
     vandag moet planne beraam om kop bo water te hou en haar gesin aanmekaar te hou in moeilike omstandighede.  As julle die optrede wil boek vir 'n Dames-tee 
     of ander funksie / byeenkoms kan julle gerus skakel met Marianthie om dit te reël.  
     
2)  Die Kosmandjie Kombuis :
      Hier kry heelwat volwassenes en kinders kos elke dag en die getalle groei elke week.  Daar is nou meer as 100 mense wat hier kom eet daagliks.  Sommige van
      die kinders kom maak ook 'n draai by die kombuis voor skool om te kom ontbytpap eet.  Hier is nie tafels en stoele waarby die mense kan eet nie.  (Skenkings
      van tafels en stoele sal baie waardeer word asseblief).  Die 4 sitplek tafeltjie in die kombuis word gebruik asook die 4 sitplek draad tuinstel in die tuin.
      Daar is glad nie genoeg sitplek vir almal nie.  Die AGS Kerk leen nou vir hulle 'n staal tafel en stoele net vir tydelik.
      'n Afdak is ook 'n groot behoefte en noodsaaklikheid (die reën het reeds begin val).  Son-sambrele kan ook help en sal goed werk dat die mense
      in die koelte kan eet.
      Groot kastrolle om in kos te kook, borde, bakkies, messe en vurke, bakke / skottels, snyborde, groente-messe en skillers, vadoeke, tafeldoeke,
      skoonmaakmiddels, ens. is net 'n paar van die goed wat daar benodig word.  Enige kos, pap, groente, brood, melk, vleis, skoonmaakmiddels, toiletpapier, ens.
      is hier baie nodig en sal baie waardeer word.  Tannie Koekie en haar helpers probeer hard om self iets te doen om 'n bietjie maalvleis of ander benodighede
      te kan aankoop wat vir die ete gebruik word en kook soms konfyt, ens.  Leë botteltjies met toeskroef doppies word hiervoor benodig asseblief.  Bestellings
      daarvoor kan ook geplaas word.
      Die Kosmandjie Kombuis se boeke is ook mooi op datum en mens kan dus sommer maklik sien wat hulle elke dag gebruik om kos te maak vir almal, ens. 
      Ons wil ook graag vir hulle 'n bord opsit met hulle naam en kontak nommers - as daar iewers iemand is wat daarmee kan help moontlik sal dit ook gaaf wees.
 
    3)  Werkskepping :
      Ons het al 'n hele paar mense aan die werk en hulle sit skouer aan die wiel om 'n sukses te maak en iets te bereik.  Dis regtig lekker om vordering te sien in
      hierdie mense se lewens en te sien dat hulle selfvertroue en menswaardigheid weer terugkom.
      Enige Haarkapper benodighede word benodig vir die begin van 'n salon vir 'n dame wat reeds van die mense se hare sny sonder vergoeding.  Dit kan vir haar
      'n werksgeleentheid bied om 'n meer professionele diens te lewer teen 'n minimum vergoeding terwyl sy steeds die gemeenskap dien maar ook iets ontvang
      vir die werk wat sy doen.  Bak benodighede en enige bestanddele om koekies en beskuit te bak (byvoorbeeld : eiers, botter, klapper, bakpoeier en koekmeel)
      sal waardeer word. Bestellings vir beskuit en klein koekies (klapper, gemmer, ens.) kan ook geplaas word.  (Mense kan my daarvoor kontak)
      Soos bo genoem : Nuwe spoegdoeke en waslappe word borduur deur die vrouens van die naaldwerk sentrum en dit help ook om fondse in te bring.  Hierdie 
      vrouens werk hard om ander mense in die gemeenskap te help deur die kostes te betaal vir byvoorbeeld skool uitstappies, ens. van kinders wie se ouers
      dit nie kan bybring en doen nie.  Die naaldwerk sentrum is in ’n klein wendy ingeprop en ons het nog akkomodasie nodig daar sodat hulle in beter
      omstandighede kan werk elke dag.  Kassies is ook 'n groot noodsaaklikheid.  Materiaal, gare en enige ander naaldwerk benodighede is altyd hier welkom en
      van groot waarde.
    
      Lena het nou by die Kosmandjie Kombuis se erf nog 'n tweede naaldwerk sentrum begin om ook van die mense wat daar is aan te spoor om te leer en iets te
      bereik.  Sy leer hulle ook nou hemde maak, ens.  Materiaal en ander naaldwerk benodighede is hier ook welkom om die vrouens te leer.  Ons benodig hier nog
      naaldwerk masjiene en omkap masjiene.
      Ons wil ook graag vir Hanlie help om by Jireh Opheffings Inisiatief ook 'n naaldwerk sentrum aan die gang te kry en het daarvoor ook hulp nodig met
      naaldwerk masjiene, en ander goed.
 
      Groente plantjies, kunsmis en gif om groente te spuit dat die goggas dit nie eet nie word benodig vir die mense wat hulle eie groente wil plant.  Asook tuin
      gereedskap, ens. wat daarvoor benodig word.
     
4)  Graad R borge :
     Daar is kinders wat in Graad R moet wees maar daar is nie fondse om die ongeveer R400 te betaal per kind, per maand nie aangesien die ouers werkloos is.
     Die Graad R val ongelukkig buite die skool en dus kan daar glad nie aansoek gedoen word vir subsidie nie.  Ons wil poog om met die hulp van borge hierdie
     kinders wel die geleentheid te gun om in die skool se Graad R klas te wees en skoolgereed te raak voor hulle Graad 1 toe moet gaan.  Omdat die ouers nie geld
     het om vir Graad R te betaal nie, bly die kinders maar agter, en ons wil dit so ver moontlik voorkom.
     
      Borge om hierdie kinders se skool fooie te betaal, selfs net vir 'n maand of twee van die jaar sal reeds baie help.  Baie dankie solank.  Hierdie fondse kan
      direk in Sonop Laerskool se rekening inbetaal word met die verwysing : "Graad R Borg".  Inligting van die rekening is op aanvraag beskikbaar.
      Dankie Louise dat jy beloof het om vir Jessica te borg vir die jaar en haar skoolgeld te betaal vir 2010 - dis werklik dierbaar van jou.
    
5) Ander :
 
      Arbeidsterapeute wat moontlik kan help met tuis-programme en leiding word dringend benodig om ons te help met ’n paar kinders wat in Graad 1 is en baie
      sukkel om uitkomstes te behaal.  Daar is nie geld om te betaal vir proffesionele hulp nie en die kinders ly daaronder en moet soms die spot van ander verduur.
 
      ’n Nege jarige dogter wat uitstekend vaar in gimnastiek het eers in Februarie 2009 begin deelneem en sy het reeds verskeie medaljes verower.  Ons het vir
       borge gevra vir hierdie dogter en is baie dankbaar dat Suzette aangebied het dat hulle daarmee sal help vir die volgende jaar.  Baie dankie daarvoor. 
       Om haar afrigter aan te haal "Baie dankie dat julle haar vlerke gee".  Julle is dierbaar.
 
       Ons gaan weer heelwat skryfbehoeftes benodig om uit te deel aan die kinders wanneer die skool weer begin in Januarie 2010.  Daarom wil ons dus nou al
       vra vir u hulp daarmee.  Enige skryfbehoeftes asseblief - kleurpotlode, penne, potlode, uitveërs, liniale, gom, skryfblokke, uitdraai kryte, ens.  Baie dankie
       solank. Dankie ook vir dit wat ons reeds ontvang het.  Nuwe Skooltasse is nodig vir 'n hele klomp nuwe Graad 1 kinders asook donasies vir skool klere. 
 
       Enige iemand wat iets spesifiek kan leer vir hierdie mense of praatjies kan aanbied oor spesifieke goed kan regtig baie beteken.  Dit sal wonderlik wees as
       ons in die nuwe jaar op 'n Saterdag almal saam kan lapverf doen, kraletjies ryg en mooi goed maak, seep leer kook, leer om kerse te maak, ensovoorts. 
       Kreatief wees is soms medisyne vir die siel.  Wie is lus om my daarmee te kom help ? Ek is nie baie kunstig nie en idees is altyd welkom. 
 
      Meubels - daar is heelwat gesinne wat nie die luukse het van sitkamer meubels, beddens, yskaste, vrieskaste, laaiekaste, hangkaste, matte, wasmasjiene,
      tafels en stoele, en ander goed nie. 
      As u dus goed het wat u wil wegmaak omdat dit in die pad staan - skakel asb. met ons om dit te kom haal en uit te gee waar daar 'n behoefte is.
      Dankie vir die goed wat ons reeds ontvang en uitgedeel het.  Dit help so baie. Ons is soms spyt dat mense nie self daar is wanneer ons hulle ou goed oorhandig
      nie sodat hulle self die vreugde en dankbaarheid kan sien van diegene wat dit ontvang.
 
      WENDY HUIS Projek - Ons poog om geld bymekaar te maak dat ons wendy huise kan aankoop vir gesinne wat in haglike omstandighede woon. 
      Indien u weet van plekke wat wendy huise bou vir billike pryse sal ek bly wees om daarvan te hoor.  Enige donasies vir hierdie doel sal ook hoog op prys
      gestel word baie dankie.  Dankie Wouter en Jeanette vir julle bydrae wat ek ontvang het hiervoor.
             
Skakel my asseblief as u geroepe voel om ons met enige iets spesifiek te help.
 
Dankie vir die mense wat Die Uitreik Projek se e-pos aanstuur na vriende, kollegas en familie en daarmee help om vir ons hulp in te win.  Ons waardeer elke stukkie hulp wat ons kan kry.
 
Indien u meer wil weet oor enige van die Uitreik Projek se projekte of bedrywighede kan u my gerus kontak  by : 083 327 2314  of  012 808 1109.
 
Geseënde Kersfees vir elkeen van julle en 'n baie Voorspoedige Nuwe Jaar.  Mag julle geseënd wees en net geluk, liefde, vreugde, vrede en goeie gesondheid ervaar. 
 
Dankie vir u tyd.
 
Groete.
 
Bettie Nel
Uitreik Projek
083 327 2314  of  012 808 1109
www.uitreikprojek.co.za





.