About us
Google
Wie en wat is die Uitreik Projek :

Die Uitreik Projek het in 2003 ontstaan toe ‘n klein groepie mense wat saam gewerk het, besluit het om ‘n verskil te maak in ander mense se lewens en iets spesiaals te doen vir Kersfees.  Ons het 200 lekkergoed- en geskenk-pakkies gemaak om uit te deel vir minder behoeftige kinders in Danville en Elandspoort.

In 2004 het ons besluit om weer die kinder pakkies met lekkergoed en geskenkies te maak.  Ons het vir tannie Louise in Elandspoort geskakel om die naamlyste van die kinders te kry by haar.  Sy’t elke middag vir meer as 100 kinders kos gegee en hulle uit die Bybel geleer.  In Danville het Alet dieselfde gedoen en ook vir meer as 100 kinders kos gegee elke dag en hulle uit die Bybel geleer.  Op Vrydae het hulle kos-pakkies opgemaak as daar iets oor was en dit gestuur saam met die kinders na hulle huise toe.

Dit het maar rof gegaan en toe ons skakel om te hoor hoeveel lekkergoed pakkies daar gemaak moes word, het tannie Louise gevra dat ons die lekkergoed pakkies los en eerder vir die kinders kos bring.  Dit het ons laat besef hoe groot die nood daar was.  Ons het vir skenkings gevra en besluit om 100 kos-hampers ook te maak wat ons aan die gesinne kon uitdeel wat hulle kon help tussen Kersfees en Nuwe Jaar.  Dit was ‘n baie groot taak maar Desember 2004 kon ons die 100 kos-hampers afgee in Elandspoort asook die 250 kinder lekkergoed- en geskenk-pakkies in Elandspoort en Danville.

Die nood word elke jaar meer en daar is elke jaar meer mense wat sukkel om kop bo water te hou.  Die Uitreik Projek het vanaf Desember 2004 dit reggekry om nog elke jaar Desember 100 kos-hampers te maak met nie-bederfbare kos, toilet benodighede en skoonmaak produkte.  Ons is afhanklik van skenkings om die nie-bederfbare voedsel, toilet benodighede en skoonmaak produkte bymekaar te maak, te pak en uit te deel.
Die hampers word uitgedeel aan gesinne en persone wat swaarkry en hulp nodig het. 

Ons kon ongelukkig verlede jaar (2007) glad nie die kinders se pakkies maak nie en het baie minder goed gehad om in die kos hampers te pak want daar was baie min skenkings.  Gelukkig kon ons deur die Vader se genade dit wel reggekry het om 100 hampers te pak in emmers wat deur Pick ‘n Pay aan ons geskenk was.  Die emmers met kos en toilet benodighede is uitgedeel aan mense wat dit nodig gehad het en sommiges het van dankbaarheid gehuil.  Dit maak die harde werk alles die moeite werd as mens besef dat jy ‘n verskil gemaak het en iets vir iemand anders beteken het.

Alle skenkings wat ons kry word uitgedeel aan mense waar ons weet ‘n behoefte is.  Ons neem ook klere en ander skenkings na verskillende Kerke en Kindertehuise.

Ons vra dat mense ons asseblief sal laat weet as hulle bewus is van gesinne in hulle omgewings wat swaarkry en kos of ander hulp nodig het.

Ons vra ook dat mense sal uitreik na ander en ‘n verskil sal probeer maak in minder bevoorregdes se lewens.

Een alleen kan nie ‘n groot verskil maak nie maar as ons almal saamstaan kan ons ‘n groot verskil in ander se lewens maak.

Dankie vir jou tyd en dankie vir jou bereidwilligheid om te help.

Die Here sal jou seën en met jou wees.

Groete

Bettie Nel (Uitreik Projek)
Projek Koördineerder
Tel : 083 327 2314
E-pos :
Kliek hier
http://www.uitreikprojek.co.za